|
Article on other languages:
|
Die See van Okhotsk (Russies: Охотское море) is 'n see wat deel uitmaak van die Stille Oseaan, ten weste van die skiereiland Kamtsjatka en die Koerile. Die see het 'n oppervlakte van 1 528 100 km² en is oor die algemeen nie dieper as 1500 m (die gemiddelde diepte is 971 m) nie, maar op sy diepste punt, digby die Koerile, is die see 3363 m diep. Die wateroppervlak is bedek met ys van November tot Junie en daar kom swaar mis oor die see voor. Magadan en Korsakov, in die Russiese Verre Ooste, is die grootste hawens. Die see is vernoem na die plek Okhotsk, die eerste Russiese nedersetting in die Verre Ooste. NaamDie Russiese seevaarders wat die see vanaf die 17de eeu bevaar het, het oorspronklik geen vaste naam vir die see gehad nie. Die see is soms Damskojesee (Damskoje more) en soms Kamtsjatkasee (Kamtsjatskoje more) genoem. Later is die naam See van Okhotsk (of Okhotsksee) gebruik. Die Japanners het histories hulle eie naam vir die see gehad; Hokkai (北海) wat "noordsee" beteken. Omdat dié naam egter nou vir die Noordsee in Europa gebruik word, is dit vervang met Ohōtsuku-kai (オホーツク海), wat 'n transliterasie is van die Russiese benaming vir die see. |
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.