Skandinawië

Article on other languages:

Skandinawië ██ Die intra-Nordiese gebruik van die term: Die drie monargieë Noorweë, Swede en Denemarke ██ Die breë betekenis: Die Nordiese gebied (sonder Groenland en Svalbard) ██ Die maksimale betekenis: Sinoniem met die hele Nordiese gebied of die Nordiese Raad
Die Åsenfjord in Noorweë

Die term Skandinawië verwys in geografiese opsig net tot die Skandinawiese skiereiland met Noorweë in die weste en Swede in die ooste, maar sluit in 'n breë kulturele en politieke sin die vyf lidstate van die Nordiese Raad in, naas Noorweë en Swede dus ook Denemarke, Finland en Ysland. Die terme Skandinawiese en Nordiese lande word gevolglik dikwels as sinonieme gebruik.

Met die uitsondering van Finland se Finssprekende meerderheid praat alle Skandinawiese volke verwante Noord-Germaanse tale en het 'n trotse demokraties-parlementêre tradisie wat in die geval van Ysland selfs na die 10de eeu terugdateer. Vandag is Finland en Ysland republieke, terwyl die ander Skandinawiese lande konstitusionele monargieë vorm.

Die huidige poltiieke bande tussen die vyf lande word versterk deur 'n gemeenskaplike geskiedenis: In die 10de eeu het die Noormanne hulle in groot dele van Noord-Europa gevestig, asook in die Noord-Franse gewes Normandië.

In die loop van hulle geskiedenis is alle Skandinawiese lande gemeenskaplik geregeer. Swede en Finland het eers in 1809 van mekaar geskei, Noorweë en Swede in 1905, en Denemarke en Ysland in 1944.

Vanweë hulle noordelike ligging, wat hulle ook aan Atlantiese weerstelsels blootstel, word die Skandinawiese lande deur 'n koel en vogtige klimaat gekenmerk wat in die algemeen nie bevorderlik vir landbou is nie. Die lange daglig van die Nordiese somer kompenseer egter vir die ongunstige klimaattoestande sodat selfs noord van die Noordpoolsirkel nog graan verbou kan word.

Tot by die 19de eeu was die Skandinawiese nasies suiwer agrariese gebiede wat tot die armste lande in Europa behoort het, en honderdduisende emigrante was gedwing om 'n nuwe heenkome in Noord-Amerika te vind. Die nywerheidsomwenteling van die 19de eeu het van Skandinawië egter een van die welvarendste wêreldstreke gemaak. Die huidige Skandinawiese ekonomieë steun op hulle natuurlike hulpbronne soos geotermiese energie (Ysland) en waterkrag (Ysland, Noorweë en Swede), ru-olie (Noorweë), Ystererts (Swede) en hout (Noorweë, Swede en Finland), maar is daarnaas ook hoogs ontwikkelde nywerheidslande met 'n uitgebreide dienstesektor en gevorderde welvaartstelsel.

Die Skandinawiese modelekonomie behels 'n tegnologies innovatiewe sekundêre sektor met 'n groot aandeel van dienste en 'n groot vraag na produksiegerigte dienste. Die huishoudings se moderne struktuur is gekenmerk deur 'n hoë persentasie ekonomies aktiewe vroue wat saam met die gesofistikeerde welvaartstelsel die verskaffing van uitgebreide sosiale dienste deur die staatsektor noodsaaklik en moontlik maak.[1]

Die gewildheid van die Skandinawiese leefstyl en ontwerp het van ondernemings soos die Sweedse meubelvervaardiger Ikea multinasionale maatskappye gemaak wat wêreldwyd op markte meeding, terwyl die progressiewe en egalitêre houdings en religieuse ongebondenheid van hulle bevolkings van die Skandinawiese lande ook wêreldleiers op die gebied van politieke gelykberegtiging gemaak en verseker het dat hulle tot die lande met die hoogste lewenskwaliteit behoort.

Inhoud

Etimologie

'n Veld met bloeiende raapsaad in Skåne (Suid-Swede)

In die antieke oudheid het Skandinawië as Scandza bekend gestaan. Die huidige term is in etimologiese opsig verwant aan Skåne ('n landskap in Suid-Swede) en die stad Skanör. Die oudste Latynse naam vir Skåne, Scadinauia, het na die gebiede noord van Germanië verwys. Sommige geleerdes beweer egter dat die term sy oorsprong by die Germaanse godin Skadi het.

Scadinauia is onder meer deur die Romeinse natuurkundige Plinius die Ouere (23-79) as 'n gelatiniseerde vorm van die Oud-Nordiese term Skaðinaujó gebruik. Hierdie term bevat die wortels skaðin- "gevaar" of "skade" (Oud-Nordies skán-) en -aujó "eiland" of "skiereiland" (Oud-Nordies -ey). "Skandinawië" sou dan "gevaarlike skiereiland" beteken en moontlik na gevaarlike seestrominge ringsom die Suid-Sweedse skiereiland Falsterbo verwys.

In die Middeleeue is die Latynse term Terra Scaniae of Terra Scania vir die geweste Skåne, Blekinge en Halland asook die eiland Bornholm gebruik; die Sweedse en Deense volkstaal verwys na hierdie streek nog steeds as Skåneland.

Geografie

Noorweë

Die weskus van Noorweë word deur gebergtes oorheers en is gebroke met sowat 50 000 klein eilande. Nou fjorde strek soms oor 'n lang afstand tot by die binneland. Akkerbougrond is skaars in die gebied en lê veral aan die einde van die fjorde waar riviere hul lope deur die bergreekse gesny het. Die nedersettings en landbougebiede langs die kus is reeds in die Wikingtydperk deur 'n netwerk van beskermde seeroetes met mekaar verbind.

Ander landboustreke lê in die Jærendistrik in die suidweste, in die omgewing van die stad Trondheim (Trøndelagdistrik) en ringsom die Oslofjord met die huidige hoofstad Oslo. Die streke wat minder geskik is vir landbou was net soos die mees noordelike gebiede anderkant die Poolsirkel steeds yl bevolk; in Noord-Noorweë het net enkele vissers- en jagtersdorpies langs die kus ontstaan.

Swede

Die Vänermeer soos gesien vanuit Hjortens Udde

Swede in die oostelike helfte van die Skandinawiese skiereiland word deur wisselende landskappe gekenmerk. Norrland in Noord-Swede word deur digte naaldbosse en harde rotsige grond oorheers; die enigste landbougebiede lê in die smal kusstrook langs die Botniese Golf.

Middel-Swede behels twee vrugbare en digbevolkte en een gebied wat minder geskik is vir landbou in. Die landskap Svealand was die oorspronklike tuisland van die Svear, 'n stam wat sy naam ook aan die hele land verleen het. Hier lê die provinsie Uppsala met die vroeëre hoofstad Ou-Uppsala, wat tydens die Middeleeue tot die magsbasis van die Sweedse koningshuis ontwikkel het; en die ongerepte Dalarna-streek met sy bergreekse, riviere en mere.

Die Götar-streek, wat na die gelyknamige stam vernoem is, lê suid van Svealand. Hierdie gebied, wat in die weste deur die Vänermeer begrens word, behels die provinsies Väster- en Östergötland (Wes- en Oos-Götar).

Die suide van Swede was net soos die noordwaarts geleë Småland vroeër yl bevolk; eers in die laat Wiking-tydperk is die Suid-Sweedse hawestad Lund deur Dene gestig. Die vrugbare eilande Gotland en Öland het egter al vroeg tot digbevolkte landbou- en handelsentrums.

Denemarke

Denemarke bestaan uit die laagliggende skiereiland Jutland en meer as 500 eilande langs sy ooskus, asook die eiland Bornholm wat verder ooswaarts in die Oossee lê. Denemarke was vroeër met digte bosse bedek, en die kusstrook langs die Noordsee was vanweë sy sanderige grond nie geskik vir landbou nie. Die plaaslike bevolking het egter reeds in die Middeleeue op perde- en veeteelt gesteun en handelsbande met sy suidelike Duitse buurlande aangeknoop.

Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Die Sonstrydwa van Trundholm dateer uit die Nordiese Bronstydperk (tussen 1400 en 1200 v.C.) en is as 'n votiefoffer in 'n Deense moerasgebied versink. Die bronsstrydwa met sy ses wiele word vanweë sy gesofistikeerde kwaliteit en ooreenkomste met ander Europese vondse as 'n Keltiese kunswerk beskou[2][3]

Die eerste menslike nedersettings in Skandinawië dateer uit die tydperk omtrent 10 000 v.C.[4] Enkele argeologiese vondse getuig van die lae bevolkingsdigtheid van hierdie periode en bewoners wat as jagters en versamelaars geleef het. Die suidweste van Noorweë (suid van die huidige hawestad Bergen) was die tuisland van die Fosna, 'n etniese groep wat vanuit die suidooste na die gebied geïmmigreer het, terwyl die Komsa die noorde van die Skandinawiese skiereiland bewoon het.

Omtrent 4000 v.C. het albei etniese groepe begin om pyl en boog, harpoen en speer vir jagdoeleindes te gebruik, terwyl daar ook die eerste vissers en akkerbouers was. Die tradisionele jagkuns van die Samivolk in Noord-Finland toon sekere ooreenkomste met hierdie vroeë beskawings.

Vanaf 1500 v.C. het die vroeë Skandinawiese volke meer voorwerpe begin vervaardig; ryk argeologiese vondse is onder meer deur setlaars uit die Bronstydperk agtergelaat wat nedersettings in die Oslofjord van Suid-Noorweë en die noordelike Varangerfjord bewoon het. Die vondse dui op permanente dorpstrukture met stabiele ekonomieë en etniese ooreenkomste met die destydse relatief welvarende bewoners van Denemarke.[5] Eerste handelsbande is aangeknoop, en Deense handelaars het Jutlandse barnsteen teen goud, koper en tin uit die noorde geruil. Grafvondse bewys dat daar in hierdie periode reeds gespesialiseerde ambagsmanne was wat versierde wapens en juweliersware vervaardig het. Godsdienstige voorwerpe soos die Sonstrydwa uit Trundholm (Denemarke), 'n vroeë bronskunswerk, verwys naas steeninskrifte na die kenmerke van die destydse godsdienste.

Houtsnywerk en reliëfs verduidelik kenmerke van die vroeë beskawings - roeibote, jag- en trekdiere was gewilde kunsobjekte, net soos manlike figure wat in hierdie tydperk meestal naak uitgebeeld is. Argeoloë het nogtans danksy talle vondse in koepelgrafte oorblyfsels van tekstiele en leerskoene ontdek sodat die destydse kleredrag gerekonstrueer kan word.

Die Ystertydperk

Die silwerketel van Gundestrup is in 1891 'n moerasgebied naby Gundestrup op die Deense skiereiland Jutland gevind. Die ketel is oorspronklik in stukke verdeel en as 'n votiefoffer versink

Die einde van die Bronstydperk en begin van die periode van ysterbewerking omtrent 500 v.C. is gekenmerk deur nuwe begrafnispraktyke. In sommige gebiede is die tradisionele koepelgrafte vervang deur bootvormige grafte wat met stene begrens was. Hulle word in kulturele opsig as voorlopers van die latere Wiking-tydperk se boot- en skeepsgrafte beskou.[6]

Skandinawië was egter as gevolg van die Keltiese magsuitbreiding in Europa in ekonomiese en politieke opsig geïsoleer. 'n Tweede probleem was die negatiewe uitwerkings van die destydse klimaatsverandering. Die yster, wat aanvanklik in Skandinawië vervaardig is, was bros en nie bestand teen die lae temperature van die noordelike gebiede sodat dele van Skandinawië deur stagnasie en selfs agteruitgang gekenmerk was.

Die Ystertydperk is ook die vroegste historiese periode waarin in Griekse en Romeinse werke na die Skandinawiërs verwys is. Die Griekse navorser Pytheas het hulle omtrent 300 v.C. as "barbare" beskryf "wat van bestaansboerdery geleef het."[7] Die Romeinse geograaf Strabo het in die 1ste eeu na die Kimbers in Denemarke verwys wat met die Kelties-Germaanse silwerketel van Gundestrup verbind word - 'n kunswerk wat ondanks sy vroeg-Keltiese motiewe ook Germaanse invloede toon.

Hierdie volke het in die Romeinse tydperk met die Romeine handel begin dryf - goedere soos huide, see-ivoor, slawe en pelse is na die Romeinse Ryk uitgevoer, terwyl Romeinse voorwerpe uit hierdie periode orals in Skandinawië opgegrawe is.

Vroeë Germaanse beskawings

Die suidwaartse migrasie van Kimbers en Teutone
Barnsteen, 'n vroeë handelsgoed

Die Romeine het Skandinawië gewoonlik as die tuisland van die Kimbers beskou, 'n Noord-Germaanse stam wat in die 1ste eeu v.C. op soek na 'n nuwe tuiste suidwaarts getrek en as plunderaars opgetree het. Ook ander barbaarse stamme soos die Langobarde, Boergondiërs en Gote, wat later 'n bedreiging vir die Romeinse Ryk sou vorm, is gewoonweg as Skandinawiërs beskryf. Plinius die Ouere het in die 1ste eeu n.C. na die eiland Scandia verwys, terwyl Tacitus die Suiones uit Swede beskryf het - 'n volk van krygers met ongewone skepe.

Die Sitones, 'n volk in die noorde van Swede en Finland, is na bewering deur 'n vrou oorheers en soms valslik as Amasone beskryf. Kaarte uit die 2de eeu, wat deur Ptolemeüs geskep is, het die Saksers en Kimbers as bewoners van die huidige Denemarke getoon, terwyl Finne en Sami op die kaarte as bewoners van die noordelike Scandia verskyn het.

In die volgende eeue is daar - ondanks die florerende handel tussen Skandinawië en die Romeinse wêreld - min oor Noord-Europa geskryf. Die riviere Weichsel en Elbe het 'n belangrike rol vir die handel met Gotiese stamme in die suide gespeel, en in Swede en Denemarke is Romeinse glas- en juweliersware, muntstukke en wapens opgegrawe wat deur die plaaslike stamme met huide, pelse, slawe, barnsteen en ander handelsgoedere betaal is.

Sweedse helm uit die Vendeltydperk (550-793)

Ná die ondergang van die Wes-Romeinse Ryk is geen Romeinse of Griekse werke oor Skandinawië meer gepubliseer nie, behalwe vir Cassiodorus se "Geskiedenis van die Gote" in die 6de eeu. Die Skandinawiërs is hier uitgebeeld as die stamme wat 'n einde aan die Romeinse Ryk en beskawing gemaak het. Die noorde van die eiland Scandia is volgens Cassiodorus deur die Adogit en Scerefennae bewoon, die Suehan (of Swede) in die suide het bekend gestaan vir hulle uitstekende perde en pelse. Ander suidelike stamme was die Halin, Liothida, Bergio, Gauthigoth, Rugi, Augandzi, Grannii en Raumarici.[8]

Die vroeë Swede is as 'n konfederasie van hierdie stamme beskryf, terwyl die Dane of vroeë Dene uit 'n kleiner aantal stamme bestaan het. Denemarke en die legendariese eiland Thule in die noorde is deur die Bisantynse geskiedskrywer Procopius as onvrugbare en troostelose gebiede uitgebeeld waar die son ook teen middernag geskyn het. Volgens Procopius was die Sami nog deur 'n baie eenvoudige leefwyse gekenmerk, terwyl ander Skandinawiese volke eerder deur hul religie van ander mense verskil het.

Latere Skandinawiese bronne verwys na die politieke eendrag van Swede en Dene. Die Ynglinga-saga en ander bronne vermeld dat die Swede van Uppland deur 'n magtige heerser geregeer is, terwyl die Angel-Saksiese Beowulf na die Skandinawiese "seekonings" verwys. Denemarke is eweneens deur magtige konings oorheers.

Argeologiese opgrawings het getoon dat Skandinawië in hierdie periode 'n agrariese ekonomie was wat met sy welvarende markte ook die ontwikkeling van gespesialiseerde ambagte bevorder het. Die Skandinawiese politiek, administrasie, skeepvaart en krygskuns het destyds van Noord-Europa 'n relatief stabiele gebied gemaak wat tot die bakermat van die Wiking-beskawing sou ontwikkel.

Skandinawiese koninkryke

Deense Wikings op see

In die 9de eeu, die begin van die Wiking-tydperk, was daar nog nie sprake van die huidige Skandinawiese nasies nie. Politieke grense het dikwels as gevolg van veldtogte of dinastiese ontwikkelinge verander, en die gebied van die huidige Denemarke, Noorweë en Swede was in 'n aantal provinsies verdeel wat deur onafhanklike plaaslike heersers (sogenaamde jarls), konings of invloedryke goewerneurs geregeer is. Baie van hierdie Skandinawiese provinsies (land) het tot vandag toe as administratiewe geweste bewaar gebly.

'n Land het in die Wiking-tydperk ook die basis van die militêre strukture gevorm. Elke provinsie is in 'n aantal hund verdeel - kleiner administratiewe en militêre eenhede met sowat honderd krygers, en terwyl die provinsies se grense as gevolg van samesmeltings en ander ontwikkelinge voortdurend verander het, is die hund gewoonlik nie aangetas nie en het as stabiele eenhede voortbestaan. Die provinsies het geleidelik tot groter monargiese ryke saamgesmelt wat deur konings geregeer is en geleidelik tot sentralistiese nasionale state ontwikkel het. Noorweë het sy magsgebied in die 13de eeu tot by die voorheen onafhanklike gebiede Ysland en Groenland uitgebrei en die die proses van politieke verenigings sodoende afgesluit. Ná die kerstening van Skandinawië het ook die plaaslike koningshuise voordeel uit die kerk se administratiewe strukture getrek wat veral politieke stabiliteit en die opbou van 'n regstelsel bevorder het.

Reeds in die Wiking-tydperk was Skandinawië in ekonomiese en politieke opsig een van die mees stabiele gebiede in Europa, en moderne historici neem aan dat sowel die bevolkingsgroei in die Nordiese lande asook die aantreklikheid van welvarende gebiede in Wes- en Sentraal-Europa die aanleiding tot die Wiking-rooftogte vanaf die 9de eeu gegee het. Ten spyte van hul wrede aanvalle op kloosters en stede was die Wikings 'n belangrike ekonomiese faktor wat die rykdomme van Wes-Europa as handelsgoed gebruik en sodoende ook 'n bydrae tot die ontwikkeling van Noord- en Oos-Europa gelewer het.

Harald Hårfagre ontvang die Noorse koningstitel uit die hand van sy vader

Denemarke was die mees sentralistiese staat in Skandinawië nadat die koningshuis sy politieke invloed al in die vroeë Wiking-tydperk stelselmatig uitgebrei en uiteindelik 'n ryk oorheers het wat tot by die Elberivier in die huidige Noord-Duitsland gestrek het. Veldtogte teen die Franke in Duitsland en die Saksers en Engeland het die politieke, ekonomiese en militêre groei van die Deense staat nog versterk, en 'n aantal Deense stede het tot demografiese sentra ontwikkel, terwyl die kerk sy invloed vanuit die hoofstad Roskilde geleidelik oor die hele land uitgebrei het. Die koninklike Deense leër was 'n beslissende faktor by die verkiesing van nuwe heersers aangesien die monargiese stelsel net gedeeltelik erflik was.

Swede was in teenstelling met Denemarke 'n agrariese gebied, maar desondanks het die Sweedse koningshuis met die uitbreiding van sy invloed na Finland en Rusland oor steeds groter bronne van staatsinkomste beskik. Die laat kerstening van die land het die kerk as 'n tweede mag naas die koning gevestig en sy magsuitbreiding beperk.

In Noorweë het topografiese faktore die ontwikeling van 'n magtige monargiese stelsel aanvanklik belemmer. Terwyl die meeste noordelike geweste selfregerende gebiede was, is die provinsie Vestfold in die suide van die land selfs deur 'n dinastie van oorspronklik Sweedse afkoms oorheers. Eers koning Harald Hårfagre het die verskillende klein Noorse ryke in die laat 9de eeu met sy oorwinning oor die noordelike heersers in 'n eenheidsstaat verenig, en sy dinastie het Noorweë tot by die einde van die Wiking-tydperk oorheers.

Verwysings

  1. ^ Bosch, Gerhard en Alexandra Wagner: Dienstleistungsgesellschaften in Europa und Ursachen für das Wachstum der Dienstleistungsbeschäftigung. In: KZfSS Kölner Zeitschrift für Soziologie und Sozialpsychologie. Volume 55, nommer 3, September 2003, bl. 487
  2. ^ Konstam, Angus: Die Kelten. Von der Hallstatt-Kultur bis zur Gegenwart. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 40
  3. ^ britannia.com: Celtic Gods
  4. ^ Konstam, Angus: Die Wikinger. Geschichte, Eroberungen, Kultur. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 12
  5. ^ Konstam (2007), bl. 12
  6. ^ Konstam (2007), bl. 13
  7. ^ Konstam (2007), bl. 13
  8. ^ Konstam (2007), bl. 15

Eksterne skakels

Die Nordiese Model - welvaartstaat en vryemarkekonomie

This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.