|
Article on other languages: |
Sphagnum is 'n genus van tussen 150 en 350 mosspesies wat algemeen as veenmos bekend staan as gevolg van die voorkoms daarvan in veenland. Lede van die genus kan groot hoeveelhede water in hulle selle stoor; sommige spesies kan so veel as twintig keer hulle droëgewig in water hou wat die rede is waarom veenmos algemeen as 'n grondbymiddel verkoop word. Sphagnum en die veen wat daaruit gevorm word verval nie maklik nie as gevolg van die fenoliese verbindings in die mos se selwande. Veenmos kan ook die omringende gebied suurder maak deur katione soos kalsium en magnesium op te neem en waterstofione vry te stel.
Geografiese verspreidingVeenmosse kom hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond voor waar verskillende spesies die boonste laag van veenlande en nat toendragebiede bedek. Die mees noordelike kolonies veenmos kom in die Svalbard eilandgroep, Noorweë in die Arktiese gebied by 81° N voor. In die Suidelike Halfrond is die grootste veenmos gebiede in Nieu-Seeland, Tasmanië en die heel suidelike dele van Chile en Argentinië. Die Suidelike Halfrond het egter minder spesies in vergelyking met die Noordelike Halfrond. Baie spesies word gerapporteer vir bergagtige, subtropiese gebied in Brasilië, maar daar bestaan heelwat onsekerheid aangaande die spesifieke status van baie daarvan. GebruikeVervalle, saamgepersde Sphagnum-mos word veenmos genoem. Veenmos kan as 'n grond bymiddel gebruik word wat die grond se waterhouvermoeë verbeter. Dit is baie keer nodig wanneer met baie sanderige grond gewerk word of vir plante wat verhoogde voginhoud benodig om te floreer. Een so 'n groep is die karnivoriese plante wat baie keer in moerasgebiede aangetref word. Gedroogde Sphagnum-mos word ook in noordelike Arktiese gebiede as 'n isolasiemateriaal gebruik. Veenmos is ook 'n sleutel element in die verbou van sampioene; swamvlok groei in kompos met 'n laag veenmos bo-op waardeur die sampioene opkom. Anaerobiese suur Sphagnum-veenlande is bekend daarvoor dat dit soogdierliggame, insluitend menslike liggame, vir duisende jare baie goed bewaar. Voorbeelde van bewaarde liggame is Tollundman, Haraldskærvrou, Clonycavanman en Lindowman. Sulke Sphagnum-veenlande kan ook menslike hare en klere bewaar. Een van die vernaamste voorbeelde in die opsig is Egtvedmeisie, Denemarke. Dit is word ook soms in perdestalle as kooigoed gebruik. Verder word dit saam met perdemis vir bemesting gebruik Meer onlangs is veenmos suksesvol aangewend as 'n bestanddeel in 'n "hoë-tegnologie" metode om ontslae te raak van behandelde riool van septiese tenks. Dit is belangrik want dit maak dit moontlik om septiese tenks te gebruik in gebiede wat die regte soort grond ontbreek[1]. Sphagnummos word reeds vir eeue lank gebruik om wonde te behandel. Dit werk as gevolg van die mos se vermoeë om bloed te absorbeer. In Nieu-Seeland word die spesies sphagnum cristatum en sphagnum subnitens per hand geoes en wêreldwyd uitgevoer vir gebruik in hangmandjiesvoerings, as 'n groei medium vir jong orgideë en gemeng met ander potplantmengsels om die waterretensie vermoeë daarvan te verbeter. Dit kan ook gebruik word as 'n substraat vir die aanhou van tarantulas aangesien dit vir die spinnekoppe maklik is om hulle daarin in te grawe en dit geen insekdoders bevat wat die spinnekop sou dood maak nie. BewaringGrootskaalse oes van veen is nie onderhoubaar nie. Dit neem duisende jare om die veenblokke wat in slegs een week geoes word te produseer. Die ontginning van groot hoeveelhede veen is veral 'n bedreiging tot verhewe veenlande.[2] In sommige lande word sphagnummos, eerder as veen, op volhoubare metodes ontgin. In die geval word genoeg mos gelaat om dit toe te laat om weer te herstel. Die mos word dan in drie-jaarsiklusse geoes. As genoegsame mos nie agtergelaat word nie kan dit kan die moeras tot 'n dekade neem om te herstel. In Nieu-Seeland word die soort oes van mos met selgs tuinvurke en sonder swaar masjienerie gedoen. Helikopters word ook gebruik om die nuutgeoesde mos van die moeras na die naaste pad te vervoer om skade aan ander komponente van die ekostelsel te beperk.[verwysing benodig] Die grootste gevaa vir die voortbestaan van sphagnummosmoerasse is die opsetlike drooglegging daarvan om meer landbougrond te verskaf.[verwysing benodig] GesondheidsgevareSphagnummoss kan potensieel die chroniese smasiekte sporotrichosis veroorsaak. Sporothrix schenckii spore dring die vel binne deur skaaf of krapplekke en ander kleiner wonde gedurende onbeskermde kontak met Sphagnummos.[verwysing benodig] Notas en verwysings
|
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.