Stalin

Article on other languages:

Joseph Stalin

Jozef Stalin (gebore Iosif Vissarionovich Dzhugashvili) (geb 18 Desember 1878 – † 5 Maart 1953) was die algemene sekeretaris van die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie se sentrale komitee vanaf 1922 tot en met sy dood in 1953. Tydens hierdie tydperk het hy 'n staatsbestel gevestig wat deesdae na verwys word as Stalinisme. As een van verskeie sekretarisse van die sentrale komitee was Stalin se formele posisie aanvanklik beperk gewees maar hy het geleidelik sy mag gekonsolideer en die de facto leier van die party en diktator van die Sowjet-Unie geword[1].

Stalin het 'n staatsbeheerde ekonomie in die Sowjet-Unie gevestig en vinnige industrialisasie afgedwing op 'n grootliks landelike bevolking en ook kollektiewe landbou afgedwing. Terwyl die Sowjet-Unie omgeskakel is vanaf 'n landelike ekonomie tot 'n groot nywerheidsmag in 'n kort tydjie, het miljoene mense gesterf as gevolg van hongersnood en armoede wat gevolg het as gevolg van ernstige ekonomiese omverwerping en die Kommunistiese party se beleid. Teen die einde van die 1930's het Stalin ook die Groot Suiwering van stapel gestuur, wat 'n groot veldtog van verdrukking was. Miljoene mense wat daarvan verdink is dat hulle 'n bedreiging vir die party ingehou het is om die lewe gebring of na Goelag arbeiderskampe in ver afgeleë gebiede van Siberië of Sentraal-Asië gestuur. 'n Aantal etniese groepe in Rusland is ook onderwerp aan gedwonge hervestiging[2].

Tydens Stalin se heerskappy het die Sowjet-Unie 'n deurslaggewende rol gespeel om Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) te verslaan. Onder Stalin se leierskap het die Sowjet-Unie een van net twee groot supermoondhede in die na-oorlogse tydperk geword, 'n status wat die Sowjet-Unie vir bykans vier dekades na sy dood sou behou tot en met die ontbinding van die Sowjet-Unie in 1990.

Inleiding

Stalin is gebore Ioseb Vissarionovich Jugashvili 18 Desember 1878[3] maar was beter bekend onder die self aangenome naam, Josef Stalin (stalin beteken "gemaak van staal"[4]). Stalin het die Algemene Sekretaris van die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie in 1922 geword. Na die dood van Wladimir Lenin in 1924 was hy in 'n magstryd met Leon Trotsky gewikkel wat hy gewen het. Trotsky is uit die party geskop en uit die Sowjet-Unie verban.

In die 1930's het Stalin 'n suiwering van die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie van stapel gestuur wat later as die Groot Suiwering bekend gestan het. Dit was 'n veldtog van politiese verdrukking, vervolging en teregstelling sonder gelyke wat sy hoogtepunt in 1937 bereik het.

Stalin se heerskappy het 'n langdurige impak gehad op die Sowjet-Unie tot en met die ineenstorting daarvan in 1991. Stalin het beweer dat sy beleid om Marxisme en Leninisme geskoei was. Tans word daar algemeen na sy politiese en ekonomiese stelsel as Stalinisme verwys. Maoiste, en ander groepering beweer dat hy die laaste ware sosialistiese leier in die geskiedenis van die Sowjet-Unie was. Stalin het die sogenaamde Nuwe Ekonomiese Beleid van die 1920's vervang met sy vyfjaarplanne in 1928 en gemeenskapsboerderye rondom ongeveer dieselfde tyd. Die Sowjet-Unie is omgeskakel vanaf 'n grootliks landelike gemeenskap tot 'n groot nywerheidsmag teen die einde van die 1930's.[5][6][7]

Konfiskasie van graan en ander voedsel deur Sowjet owerhede op sy bevel het bygedra tot 'n hongersnood tussen 1932 en 1934, veral in die sleutel landboustreke van die Sowjet-Unie, die Oekraïne, Kazakhstan en die noordelike Kaukasus het dit gelei tot die dood van miljoene mense. Baie plattelandse boere wat die gedwonge kollektivisme en beslaglegging op graan teengestaan het, is onderdruk, veral die welvarendes wat as "kulak's" beskou is.[8]

Die hewigste aanvalle van die Nazi's in Duitsland was op die Sowjet-Unie gemik (sowat 75% van die Wehrmacht se magte) en daarmee kan die Sowjet-Unie onder se Stalin se leiding se bydrae tot die verslaan van Nazi Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog (in die Sowjet-Unie het die oorlog as die Groot Patriotiese Oorlog bekend gestaan) as deurslaggewend beskou word. Na die oorlog het Stalin die Sowjet-Unie as een van die twee supermoondhede gevestig, 'n status wat die Sowjet-Unie gehandhaaf het vir bykans vier dekades na sy dood in 1953.

Stalin het tydens sy heerskappy, versterk deur 'n persoonlikheidskultus, verskeie werklike en denkbeeldige vyande beveg deur sy sekuriteitsorgane, soos onder andere die NKVD. Miljoene mense het omgekom deur hongersnood, menseslagtings en gedwonge verskuiwings asook in die Gulag. Nikita Khrushchev, Stalin se opvolger, het Stalin se heerskappy en sy persoonlikheidskultus in 1956 verwerp en 'n proses van deStalinisasie van stapel gestuur wat deels gelei het tot die skeuring in die verhouding van die Sowjet-Unie met Sjina.

Jeugjare, 1878 tot 1899

Stalin is in Georgië gebore, die seun van Vissarion Bzhugashvili en Ekaterina Geladze. Stalin se moeder was 'n gebore horige/lyfeiene. Sy vader was 'n skoenmaker wat sy eie winkel besit het. Stalin was hulle derde kind; hul twee vorige seuns het beide vroeg gesterf.[9][10]

Aanvanklik het die Dzhugashvili's 'n gelukkige en vooruitstrewende bestaan gevoer maar Stalin se pa het 'n alkoholis geword[11], wat geleidelik daartoe gelei het dat sy besigheid misluk het en dat hy ook toenemend geweldadig opgetree teenoor sy vrou en kind. Soos hulle geldelike toestand versleg het, moes Stalin se gesin noodgedwonge gereeld rondtrek; ten minste nege keer in Stalin se eerste tien lewensjare.[12]

Die dorp waar Stalin grootgeword het was 'n geweldadige, wettelose plek. Daar was slegs 'n klein polisiemag en 'n kultuur van geweld wat bende-oorloë, georganiseerde straatgevegte ingesluit het. Daar is ook stoeigevegkompetisies gereël op 'n gereelde grondslag. Stalin het ook aan die straatgevegte deelgeneem as kind en was nie bang om teenstanders aan te durf wat baie sterker as hyself was nie en is hy dan ook dikwels ernstig beseer in sulke gevegte.[12]

Op sewejarige ouderdom het Stalis pokke gekry en is sy gesig lelik geskend deur die siekte. Hy het later sy fotos laat dokter om die merke minder opsigtelik te maak.

Stalin se moedertaal was Georgies gewees. Hy het eers op agt- of negejarige ouderdom begin leer om Russies te praat en het altyd 'n sterk Georgiaanse aksent gehad.

Op die ouderdom van 10 het Stalin begin skoolgaan by die Gori Kerkskool. Sy skoolmaats was meestal seuns van welvarende priesters, amptenare en handelaars. Hy en sy maats het meestal Georgies gepraat maar hulle is egter in die skool gedwing om Russies te praat ('n Beleid van Tsar Alexander III). Stalin was egter 'n skrander leerling en het hoë punte in al sy vakke behaal. Hy het in die koor gesing en is selfs soms gehuur om by troues te sing. Hy het selfs gedigte geskryf en was later jare bekend vir sy vaardigheid in die verband.[12]

Verwysings

  1. ^

    Bullock, p. 548, "both dictators".

    Ulam, p. xiv, "the dictator not only deprived".
    Davies, Harris, p.108, "Stalin as dictator".
    Mawdsley, p. 1, "effectively a dictator".
    Overy, p. 17, "and, later, as dictator"
  2. ^ Hakim, Joy (1995). A History of Us: War, Peace and all that Jazz. New York: Oxford University Press. ISBN 0-19-509514-6. 
  3. ^ Al die bronne rondom Stalin se geboortedatum is nie heeltemal konsekwent nie dus bestaan daar twyfel oor die presiese datum, daar is egter 'n inskrywing in die rekords van die Uspensky Kerk in Gori, Georgië wat 'n Iosif Dzhugashvili aangee as gebore op 18 Desember 1878. Hierdie geboortedatum is ook op sy Skeelverlatingsertifikaat aangedui, in sy polisie-lêer tydens die Tsaar se bewind, ook in 'n arrestasie rekord van 18 April 1902 wat sy ouderdom as 23 jaar aangee en al die ander voor-rewolusionêre dokumente. Stalin het ook 18 Desember 1878 in 'n curriculum vitae aangedui as sy geboortedatum in 1921 in sy eie handskrif. Na sy oorname in 1922 is die datum egter verander na 21 Desember 1879 en dit was dan ook die datum waarop sy geboortedag in die Sowjet-Unie gevier is.
  4. ^ Halfin, Igal. Terror in My Soul: Communist autobiographies on trial, bl. 15.[1]
  5. ^ Simon Sebag Montefiore. Stalin: The Court of the Red Tsar, Knopf, 2004 (ISBN 1-4000-4230-5).
  6. ^ Russia's War: A History of the Soviet Effort: 1941–1945, ISBN 0-14-027169-4.
  7. ^ Richard Overy, The Dictators: Hitler's Germany, Stalin's Russia, ISBN 0-393-02030-4.
  8. ^ http://www.hup.harvard.edu/catalog/COUBLA.html The Black Book of Communism
  9. ^ http://books.guardian.co.uk/poetry/features/0,,2083062,00.html
  10. ^ http://www.newcriterion.com/articles.cfm/birth-of-a-despot-3654
  11. ^ Ludwig, Arnold M., King of the Mountain: The Nature of Political Leadership, University Press of Kentucky, 2002, ISBN 0813190681 p.152
  12. ^ 12,0 12,1 12,2 Simon Sebag Montefiore. Young Stalin. 2007. ISBN 978-0-297-85068-7

This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.